|
Die
teater was intiem. Die verhoog was donker. In die een hoek het ‘n
glimmende vleuelklavier gestaan. Toe hy op die verhoog uitstap in sy
ontwerperspak en ingevoerde Italiaanse leerskoene, het ‘n paar vroue
hoorbaar na hulle asems gesnak, want hy is - eenvoudig gestel - drop dead
gorgeous.
Nadat die meesleurende, klassieke note van sy eerste lied weggesterf het,
begin hy ‘n storie vertel. En skielik het twee uiteenlopende wêrelde op
die verhoog bymekaar gekom.
Alhoewel Tobi op die verhoog in Afrikaans, Engels en Italiaans sing, is sy
praat-stem sjarmant getooi met ‘n effense Karoo-aksent. Want die man wat
gemaklik op ‘n wêreldverhoog kan optree en net so stylvol op ons meer
beskeie verhoë sy gehore oorrompel, is ‘n plaasseun.
Benewens suksesvolle sanger is Tobi ook ‘n model, bedryf hy ‘n suksesvolle
grafiese ontwerp maatskappy, is ‘n suksesvolle sakeman, ‘n skrywer en nou
ook bekende TV aanbieder.
Net soos hy in sy lewe met sy voete vas op die aarde staan en sy kop in
die wolke, sorg sy vertonings vir dieselfde uiterstes van ervarings. Jy
vlieg saam met hom wanneer hy sing en jy kruip op die grond wanneer hy
vertel. Hy vat jou op ‘n sterrereis met sy musiek en bring jou terug aarde
toe met ‘n storie. En hy doen dit als met sy stem.
In die veld, met skape, katbos en kambroo as gehoor, het Tobi gesing dat
die koppies antwoord gee. Vandag tree hy wêreldwyd voor waarderende gehore
op – en is dit die dawerende applous en staande toejuigings wat terugpraat
en sý merkwaardige storie vertel.
Die melkweg het ‘n ster verloor. En hy is in ons midde. |